Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 24 OKTOBER 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word, en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

PRESIDENTSNET GEE VORM AAN SARL SE REAKSIE OP KONSEP REGULASIES

RADIOAMATEUR HERVERKIES AS ITU-SEKRETARIS-GENERAAL

CISPR BEGIN VAN VOOR OOR KLK

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

PRESIDENTSNET GEE VORM AAN SARL SE REAKSIE OP KONSEP REGULASIES

’n Rekord getal luisteraars en deelnemers het insette gelewer om vorm te gee aan die SARL se reaksie op die konsepregulasies oor Radiofrekwensiespektrum wat vir kommentaar deur OKOSA in die Staatskoerant gepubliseer is. Die SARL het konsep 3 van sy reaksie gepubliseer en dit is nou op www.sarl,org.za beskikbaar. Daar word aan die finale weergawe gewerk wat verfyning van die teks behels sowel as die byvoeging van verduidelikings en motiverings ter verduideliking van die SARL se denke. Die finale dokument sal op die webwerf gepubliseer word sodra dit ingedien is. Kommentaar op konsep 2 kan voor 28 Oktober 2010 gestuur word aan armi@sarl.org.za. Stuur kommentaar asb. slegs aan armi@sarl.org.za en nie aan enige ander e-posadres nie.

Die SARL se webwerf was wispelturig en met tye stadig. Die diensverskaffer werk aan die probleem en het dit verhoog na hoë vlak ondersteuning. Dit is nie duidelik wat die probleem veroorsaak nie. ’n Aantal teenstrydighede is raakgesien en dit word ondersoek. Die SARL vra om verskoning vir die ongerief.

As alternatief om die tweede konsep van die SARL se kommentaar aan OKOSA te bekom, besoek www.amateurradio.org.za/armi.htm.

RADIOAMATEUR HERVERKIES AS ITU-SEKRETARIS-GENERAAL

Lidstate van die Internasionale Telekommunikasie-Unie het Dr. Hamadoun Touré, HB9EHT, van Mali herverkies vir ’n vier jaar termyn as Sekretaris-Generaal van daardie organisasie. Dr. Touré het sy verkiesing met 151 stemme gewen uit 157 lande teenwoordig en wat gestem het.

HB9EHT het na die stemming die konferensie van byna 1 500 afgevaardigdes vanaf oral uit die wêreld toegespreek en gesê dat hy spesiale klem sal lê op breëbandtoegang sowel as om te verseker dat kubersekuriteit hoog sal wees op elkeen se agenda.
Touré het ook onderneem om te verseker dat aan ontwikkelende klein eiland state en land-ingesluite lande spesiale aandag aangegee sal word. Hy het ook gesê dat hy meer private sektor betrokkenheid sal aanmoedig deur publieke-private vennootskappe, beide binne die ITU en daar buite..

CISPR BEGIN VAN VOOR OOR KLK

Die CISPR se projekspan oor KLK het die einde van hul mandaat, wat oor vyf jaar gestrek het, sonder om met ’n bruikbare dokument te voorskyn te kom, wat die voortgaande beskerming van radiodienste sou waarborg. Dit beteken dat die werk wat oor die afgelope tien jaar gedoen is onvrugbaar was. CISPR sal dus weer van vooraf moet begin.

In die tussentyd het werkgroep 6, van die SABS se tegniese komitees 73 en 80, waarvan die SARL se verteenwoordiger, Hans van de Groenendaal, die voorsitter is, die afgelope week vergader en het hulle die konsepregulasies wat deur OKOSA opgestel is nagegaan. ’n Aantal kleiner verbeterings is aanbeveel. As deel van die regulasies moet maatskappye, wat van plan is om KLK-stelsels te installeer, alle besonderhede op ’n publieke beskikbare databasis registreer.

Die SARL hou die ontwikkelings noukeurig dop. Terwyl ons versoek dat alle amateurfrekwensies uitgekeep moet word nie aanvaar is nie, is daar ’n duidelike verstandhouding met die verkopers van KLK-toerusting dat voorsiening vir die uitkeping van amateurfrekwensies ’n voorvereiste vir ’n suksesvolle netwerk is. Die onderhandelingsproses wat oor steurings in die konsepregulasies ingesluit is, maak voorsiening vir vinnige regstellende aksie sou steurings op HF ondervind word.

Perke wat in die konsepregulasies ingesluit is, is dieselfde as wat in CISPR 22 voorkom. Hierdie perke is die rede waarom die KLK-projekspan nie eenstemmigheid kon bereik nie aangesien die meerderheid van die CISPR-lede nie bereid was om die perke, wat die KLK-industrie wil hê, te verlaag nie. Suid-Afrika se verteenwoordiger by die CISPR, Eric Winter, het ’n uitstekende taak verrig deur al sy kragte in te span om te verseker dat gesonde verstand heers ten gunste van die beskerming van HF. Baie dankie Eric.

RADIO ZS

The back page of Radio ZS is becoming available from the November/December 2010 edition. If your company would like to advertise in this prime position in Radio ZS, please send an email to zs6akv@sarl.org.za with contact details and the person to contact.


JONG DAMES NET

’n Groep Jong Dames onder die leierskap van Anette, ZS6D, gaan begin 'n JD-net om die JD’s meer betrokke en op die lug te kry. Daar is baie JD’S met lisensies maar ons hoor hulle nie oor die lug nie. Daar was baie JD’s wat deelgeneem het aan die JD-wedloop maar net 10 het logstate ingestuur. Dit is tyd dat ons JD’s ook oor die lug gehoor word.

Die JD-net begin op 31 Oktober 2010 om 15:00 op die Magaliesherhaler, frekwensie 145,750 MHz. Alle JD’S is welkom. Indien jy vir eers nie wil praat nie, gee jou roepsein. Indien u enige voorstelle of interessante nuus het om mee te deel is julle baie welkom om saam deel te neem. Die JD’S is ook welkom om vir Anette te skakel by 073 199 9032 of om e-pos te stuur aan zr6d@ymail.com.

Tydens die algemene jaarvergadering van die Sasolburg Amateurradioklub ZS4SRK gehou op 18 Oktober 2010 is die volgende lede tot die klubkomitee verkies:

Voorsitter: Gideon Jannasch, ZS4GJA
Visevoorsitter: Frik Wolff, ZS6FZ
Sekretaris Erich: Jannasch ZS4VW
Tesourier: Corné Cronjé, ZU6C
Hulptesourier: Amanda Greeff, ZR6AGS
Nuusbrief: Riaan Greeff, ZS4PR
Mediaskakel: Andries Visagie ZS6VL, Riaan Greeff, ZS4PR, en Jaco, ZS6JCO
Tegnies: Ockerd Taljaard, ZS6LZ, Frik Wolf, ZS6FZ, en Riaan Greeff, ZS4PR
Waarnemend Tegnies: Johan Steyn, ZS4SS ,en Frans Durand, ZS4FD

Voorspoed en sukses aan die nuwe komitee en dankie aan die uittredende komiteelede vir hulle waardevolle bydrae.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Aktiewe sonvlek 1 112 sal binnekort uit die aarde se gesigsveld roteer maar word deur die nuwe sonvlekke 1 117 en 1 118, wat Dinsdag hulle verskyning gemaak het, opgevolg. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 20 wees.

20 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 15 en 10 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 10 m en dan later op 15 en 20 m na Europa goed wees. Kontakte met Australië en Nieu-Seeland is met sonsopkoms op 20 m moontlik en ook op 40 m nadat die son gesak het. Kontakte met die VSA is uiteindelik weer op 15 m gedurende die aand moontlik. 15 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. Vroegoggend en laatmiddag is 80 m die beste keuse, veral oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

28 Oktober – Laaste dag vir kommentaar op SARL se konsep 2 kommentaar op konsep radioregulasies;
31 Oktober – Begin van JD-net om 15:00 op 145,750 MHz in Pretoria.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program "Amateur Radio Mirror International" wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n "podcast"-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur George, ZS6NE, opgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003